Die Leerderraad speel ’n integrale rol in die daaglikse funksionering van ons skool. As die stem van die leerders verseker dit dat hul idees en bekommernisse in die alledaagse besluitnemingsproses ingesluit word. Hulle werk nou saam met die personeel om ’n positiewe en samewerkende omgewing te bevorder waar alle leerders kan floreer.
Deur samewerking met die onderwysers, kan die Leerderraad projekte en aktiwiteite beplan wat die skoolkultuur versterk. Van die organisering van sosiale geleenthede tot die bevordering van akademiese uitnemendheid, dra die Leerderraad by tot die sukses van ons skool gemeenskap.
Hierdie betrokkenheid help leerders om hul leierskap en samewerkingsvaardighede te ontwikkel, terwyl hulle verantwoordelikheid neem vir hul omgewing. By Laurus beskou ons die Leerderraad as ’n sleutelkomponent wat die dinamika van die skool elke dag positief beïnvloed.
Dit is vir my ’n groot voorreg om hoofseun van ons skool te wees. Ek is baie dankbaar vir die kans en belowe om altyd my beste te gee.
Ons leuse, “Groei en Oorwin”, beteken vir my dat ons nooit moet opgee nie. Ons gaan soms foute maak, maar dis hoe ons leer en sterker word. Elke dag is ’n nuwe kans om beter te doen in die klas, op die sportveld en in hoe ons mekaar hanteer.
Ek wil graag ’n goeie voorbeeld wees en saam met julle werk om ons skool nog beter te maak. Kom ons ondersteun mekaar, respekteer mekaar en wees trots om deel van Laerskool Laurus te wees.
Saam kan ons groei en oorwin!
Nickyle Augustus
Hier by Laerskool Laurus gee die onderwysers om vir elke leerder. Elke leerder word waardeer en raakgesien. Hulle moedig ons aan om ons beste te doen op beide akademiese- en persoonlike vlak.
Ons skool bied baie geleenthede – of jy nou lief is vir sport, kultuur of akademie. Hier kry elke leerder die kans om sy talente te ontdek en te ontwikkel. Ons leer om saam te werk, mekaar te respekteer en trots te wees op wie ons is.
Ek glo Laerskool Laurus is die regte keuse vir enige leerder wat wil leer, groei en sukses behaal. Hier leer jy nie net nie, maar jy kan ook droom, groei en glo in jouself.
Ons is een groot familie wat mekaar ten alle tye ondersteun. Ons vier mekaar se suksesse en staan saam wanneer dinge moeilik raak. Hier voel jy altyd veilig en tuis.
By Laerskool Laurus leef ons elke dag ons leuse uit: Groei en oorwin !
Saydi Schroeder